GOEIE NUUS VIR BEKOMMERDE OUERS – Leerderondersteuning met oemf!
Met besorgdheid word baie leerders iewers in hul skooljaar voor ons deure afgelaai.
“Ek soek hulp,” pleit menige angstige ma’s. “Ek is raadop!” “Ek het al alles probeer en gehoor.” “My kind se swak leesvermoë beinvloed haar hele persoonlikheid.” “Die juffrou sê dat my kind nie in die klas kan konsentreer nie, dat haar skoolwerk slordig is en dat take nooit behoorlik voltooi word nie.” “Verder skryf my kind opdragte verkeerd van die bord af of soms glad nie.” “Kan julle my kind help asseblief. My kind wil nie meer skool toe gaan nie.”
Die ma’s gaan gewoonlik verder en sê, “Hoekom het haar onderwysers dan niks vir my in my kind se grondslagfase gesê nie? Graad 4 se pas is net so ongelooflik vinnig en my kind kan bloot nie bybly nie. Ek het al so ver gegaan deur haar oë te laat toets, en na ‘n jaar se arbeidsterapie is sy ook nou op medikasie, maar sukkel steeds met lees.” “Letters word omgeruil, woorde word verkeerd uitgespreek of woorde word ingesit wat nie bestaan nie en die sin maak bloot nie sin as sy dit klaar gelees het nie.”
Wetenskaplikes is dit vandag eens dat as ons ons kinders wil red van hierdie penarie, sal lees as vaardigheid baie meer wetenskaplik aangepak moet word. Te veel kinders val deur die skeure van ongeletterdheid, soos bewys word deur die groot aantal leerders wat teen Graad 10 noodgedwonge besluit om die skool te verlaat.
Dit is ongelooflik hoe taalarm ‘n kind is wat nie bedrewe in lees is nie. Dit verhinder die leerder om te kan studeer, het ‘n direkte gevolg dat kreatiewe skryf nie behoorlik aangepak kan word nie en dat begrip swak is. Lae selfbeeld, aandagafleibaarheid en swak gedrag is bloot uitvloeisels van so ‘n ongeorganiseerde brein. Wetenskaplik beteken dit dat die neuro-netwerk vir daardie spesifieke vaardigheid nooit suksesvol in die brein gestoor is nie. Daar is gapings en wanneer ‘n kind dan agter raak haal hy of sy dit nooit weer in nie, tensy hy of sy by ‘n leerondersteuningsentrum kan uitkom wat daarin spesialiseer om hulle terug te neem na die vlak waar hulle agter geraak het en die fondament so te lê dat daar nie gapings is nie. Prontuit beteken dit bloot dat al is ‘n kind in Graad 4, help dit nie ek probeer Graad 4 werk remedieer as die neuro-netwerk vir Graad 1 nie behoorlik gevestig was nie. Iemand sal die leerder se leesvlak moet evalueer om te sien waar die kind die gaping opgetel het. Dieselfde geld natuurlik ook vir wiskunde, kuns, musiek en vir elke wetenskap onder die son.
Volgens Brand van Dyk, direkteur van opleiding vir die landswye SmartBrain leerderondersteuningsentrums, waar disleksie en leesverwante probleme daagliks aangespreek en opgelos word, is ‘n wetenskaplike benadering tot lees noodsaaklik. Hy haal taalkundige wetenskaplikes soos Barbara Foorman en Rudolf Flesch aan wat beweer dat direkte, sistematiese fonetiese onderrig, waar leerders eers die individuele klanke en die skryf van die letters onder die knie moet kry voordat daar aanbeweeg word na woorde, van kardinale belang is. Dit is te algemeen dat van kleuterskoolkinders verlang word om hul naam te kan skryf voordat hulle aan lettervorming blootgestel was. Hierdie leerders begin hul lewens sommer daar al op die verkeerde voet! Dit is uiters belangrik dat die alfabetiese kode reeds op Graad RR en Graad R vlak bemeester moet word. Volgens Mnr. Van Dyk is dit ons kragtigste wapen teen ongeletterdheid.
‘n Leesprobleem is in wese die onvermoë om die letters, soos “ch” as die klank “g” te eien en daarom hoor jy sjaoties of kaoties in plaas van ch(g)aoties. Wanneer leerders dus die kode ken en inoefen word hulle goeie lesers. Akkuraatheid en spoed is baie belangrik. Eers wanneer die kodering van vokale, konsonante en konsonantgroeperings suksesvol plaasgevind het, word die leerder toegelaat om aandag te gee aan begrip en memorisering.
Die voordele van ‘n fonetiese leesfondasie is dus voor die hand liggend. Omdat leerders beter kan lees, is huiswerk nooit ‘n probleem nie, maar word dit met selfvertroue aangepak en as pret ervaar. Huiswerk word vinniger gedoen en daar is nou meer tyd vir speel en sport. Die ‘probleemkind’ is in die meeste gevalle nie die leerder wat goed kan lees nie, maar eerder die leerder wat geen fonetiese neuroprogrammering op ‘n jong ouderdom ontvang het nie. Dit is moeilik om op iets te konsentreer wat nie genoegsaam herhaal was nie en daarom raak dit moeilik om by te bly, humeure raak kort en weersin vir lees word opgebou.
‘n Goeie begin kan nie onderskat word nie!
Baie mense glo dat hulle kinders die probleem mettertyd sal oorkom, maar die statistieke vertel ‘n ander storie. Meer as 80% van leerders wat in Graad 3 sukkel sal swak lesers vir die res van hulle lewens bly. Juis daarom is leerderondersteuning in lees, skryf, spel, begrip en leervaardighede so lewensbelangrik. Dit is nooit te laat om vir hulp te vra nie, want elke dag wat jy wag word die agterstand wat uitgewis moet word net al hoe groter. As jy onseker is, neem jou kind vir ‘n evaluasie!